BLOG
- Details
'n Kliënt vertel my nou die dag dat die storie wat sy my wou vertel anders in haar kop geklink as wat uiteindelik uitgeborrel het. Dit is nogal ‘n algemene probleem as jy, in jou gedagtes, sorgvuldig uitwerk wat jy wil vertel en wanneer jy jou belewenis probeer praat klink dit net ‘anders’. Anders, asof dit ‘n afgewaterde weergawe is waarvan party stukke verlore geraak het.
As jy nodig het om my te vertel wat in jou hart, gemoed en kop omgaan, fokus op jou weergawe. Jou storie is belangrik. Ander mense, selfs die in jou storie, het ander belewenisse. Hulle het hul eie stories.
Jou lewenstorie het unieke eienskappe. Jou lewenservaringe het unieke nuanses met hoogtepunte, laagtepunte en ontploffings. Jou belewenisse is belangrik, net soos wat jy belangrik is.
Gewoonlik vertel my kliënte hul stories in stukkies en brokkies. Hulle onthou later die detail van wat hulle uitgelaat het of vertel die hele storie uit ‘n ander hoek of op ʼn ander manier.
As jy my kliënt is kan jy jou storie soveel keer vertel as wat jy nodig het om sin te maak van jou ervaring of gevoelens en gedagtes. My rol is om jou te help om die deurbrake te kry wat jy na soek. Ek is jou metgesel wat help om krisisse en trauma te ontsyfer sodat jy heel kan word.
Jy kan 'n vertroulike afspraak maak op
- Details
Hallo Nadia
Het jy agter gekom dat die seisoen is stadig besig om te verander. Dit word stadig maar seker koeler wanneer die son sak. Dit is amper soos die pyn wat in helpers se harte kan inkruip. Helpers kan die slagoffers word van die mense wat hulle help. Ondankbaarheid, geniepsigheid en vlymskerp tonge veroorsaak gapende wonde.
Ja, helpers kan onsigbare slagoffers word. Niemand sien die pyn. Niemand sien die opofferings wat hulle maak om ander se lewens makliker te maak nie. Geen opleiding kan ‘n mens voorberei op die seer deel van naastediens nie, want dit kom uit oorde wat jy dit die minste verwag.
Wanneer ek beraders oplei is dit nie in my hart om hulle te leer hoe om ‘n wrede, hartelose samelewing in die oë te kyk nie. Ek wil mense leer hoe om hul wêreld ‘n bietjie minder wreed en harteloos te maak.
Dit is nie jou taak om ander mense se verwagtinge te bestuur nie. Jy kan nie die dinge wat jare geneem het om uitmekaar te val in minute regmaak nie. Hulle verwagtinge gaan nie oor jou vermoë om te help nie, maar die vraag is eerder of daardie mens gereed om jou hulp te aanvaar.
Jy is verantwoordelik vir jou emosionele en geestelike welstand. Soms is dit nodig om grense in jou lewe te stel om emosionele afknouery en boeliegedrag te stop. Grense laat ruimte sodat ek vir jou kan omgee en terselfdertyd na my welstand kan omsien. Grense is die afstand wat ons tussen mekaar stel sodat elkeen selfstandige volwassenes kan wees.
Mure is solied en nie- deurdringbaar nie. Grense is nie mure nie. Waar daar grense is, is daar ruimte vir groei en genade. Daar is vyf soorte grense wat ‘n mens nodig het. Dit sluit grense op fisiese, emosionele, verstandelike (kognitiewe), kommunikasie en tyd vlakke in. Hier is voorbeelde:
- Neem ‘n tree terug, want iemand is te naby (fisiese grens).
- Nee, jy kan nie my motor vir ‘n naweek leen nie (fisiese grens).
- Dit is nie ‘n onderwerp wat ek nou wil bespreek nie (emosionele grens).
- Ek het baie hooi op my vurk en ek kan nie nou betrokke raak nie (emosionele grens).
- Dit is heeltemal in orde as jy nie met my saamstem nie (kognitiewe/emosionele grens).
- Dit is in orde om van mening te verskil maar dit is nie aanvaarbaar om onbeleef te wees nie (kognitiewe/emosionele grens).
- Dit is nie aanvaarbaar as jy op die manier met my praat nie (kommunikasie grens).
- Ek vra om verskoning vir die wyse waarop ek met jou gepraat het. Dit is nie reg nie (kommunikasie grens).
- Laat my asseblief in die toekoms weet as jy laat gaan wees (tydgrens).
- Ek kan net vir ‘n uur bly (tydgrens).
Wanneer jy grense stel moet jy spesifiek wees oor presies wat jy wil hê. Doen dit met rustige selfvertroue, sonder om bang te wees vir konflik. As daar weerstand is, kan jy ferm herhaal wat jy verwag. Wees rustig in die wete dat jy mense kan help sonder om in ongewensde verhoudinge te wees, sonder om geboelie of mishandel te word.
Ja, waar daar grense is, is daar inderdaad ruimte vir genade. Wat jy ook al vandag doen, doen dit uit die goedheid van jou hart, met jou hele hart. Daardie mens wat langs jou staan doen moontlik hul heel beste om nie uitmekaar te val nie.
Dankie vir jou diensbaarheid. As dit nie vandag vir jou hulp was nie, is daar iemand wat slegter af sou wees. As jy grense stel is daar altyd ruimte vir genade vir jouself ook. Dit maak nie saak hoe moeilik gister was nie, vandag is ‘n nuwe geleentheid om jou God-gegewe roeping uit te leef. Hou met altwee jou hande aan jou droom vas.
Nadia, as jy vind dat dit moeilik of selfs onmoontlik is om gesonde grense te stel kan ek jou help. Ek is ‘n oproep vêr. Jy kan enige tyd ‘n afspraak bespreek, sonder enige derde party wat baie vrae vra, deur na my webwerf te gaan vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.
Hier is die potgooi van die boodskap - Die boodskap was op 26 Februarie 2022 uitgesaai op Jacques H Botes se program op PretoriaFM.
Groete tot volgende keer.
Dr Barbara
- Details
Hallo Nadia
As die lewe se storms aankom het jy geloof, hoop en gesonde verstand nodig.
As ‘n pastorale berader help ek mense om deur die nagevolge van lewenstorms te werk. Gelukkige ontwikkel nie alle mense wat deur trauma gaan posttraumatiese spanningsversteuring of PTSD nie. Genadiglik is mense meer veerkragtig as wat ons hulle voor krediet gee.
Ons veerkragtigheid word soms beproef as die lewenstorms van verskillende kante af op ons neerreën.
Vandag wil ek net sê: Stop die storm. Stop die storm in jou lewe.
- Details
Hallo Nadia
Baie dele van ons land het die afgelope tyd reën gekry en dit is asof hele gemeenskappe nuwe hoop gekry het. In sommige dele was daar skade maar die meeste mense is dankbaar vir die reën ten spyte van die verspoeling en oorstroming wat plek-plek gebeur het.
Soms spoel trauma en drama ook so deur ‘n mens se lewe en daarom het ek die webjoernaal na jou vernoem Nadia. Jou naam beteken mos hoop. Saam kan ons hoop in elke situasie innooi.
As ‘n berader het my lewenspad met die van ‘n mense in nood of traumatiese pyn gekruis. Die kontak was soms net ‘n paar uur of selfs vir ‘n paar minute. Vandag kan net ek baie dankie sê vir daardie oomblikke.
As helper hoop en bid jy dat jy ‘n verskil maak aan ander se pyn en lyding. Die werklikheid het my geleer dat elke mens met wie ek in kontak kom aan my hart raak.
- Details
‘n Bietjie liefde vir die kruidjie-roer-my-nie
In ons hedendaagse samelewing is baie mense so bevrees vir hul toekoms dat hul lewenslus en hoop al kleiner raak. In die werkplek en by die huis kan niemand dink dat hulle nie in totale beheer van alles kan wees nie.
Dit is presies die teenoorgestelde én dieselfde as om in ‘n oorlewingswaan te wees. Almal word op ‘n afstand gehou met ‘n beleefde, neutrale: “Dit gaan goed, dankie”. Indien iemand hulp aanbied of meer geneentheid van jou verwag klap jy toe soos die kruidjie-roer-my-nie.
'n Kruidjie-roer-my-nie is 'n plant wat by aanraking sy blare vinnig kan toevou. Die Kaapse-kruidjie-roer-my-nie (Melianthus Comosus) is inheems aan Suid-Afrika. Dit is 'n struik wat vinnig groei en wat aromatiese blare het. Die klokvormige blomme is helderrooi met swart kolle aan die hals. Die pragtige plante trek voëls soos suikerbekkies aan. Gewoonlik is die blare snags opgevou en oordag uitgesprei, maar by aanraking kan die plant skielik sy blare toevou.
Nadia, my uitdaging vir jou in 2022 is om dit te waag om ‘n bietjie meer liefde, ondersteuning en vriendskap in jou lewe toe te laat. Laat toe dat die mense om jou kan sien watter pragtige mens jy is. Jy is lief vir ons Hemelse Vader, maar daar is ‘n groot vrees wat veroorsaak dat jy soos ‘n kruidjie-roer-my nie toeslaan as iemand naby jou kom.
Ja, mense kan seer maak en jou teleur stel, maar God se genade is elke oggend nuut, die son sal wel weer skyn en daar is liefdevolle, omgee-mense om jou. Die meeste mense ken nie die wonderlike mense in hul eie lewens nie, want hulle is te besig. Besig om ander vanselfsprekend te aanvaar en ons harte is toegepanser.
As die seer van trauma die lens geword het waardeur jy na die wêreld kyk is dit tyd om die lense skoon te maak of ‘n ander bril te kry. Jy is baie sterker as wat jy vandag voel. Jou gewilligheid om te probeer om mense toe te laat om jou te leer ken en lief te hê sal maak dat jy verander. Jy sal elke keer ‘n bietjie dapperder en wyser wees.
Waar begin ‘n mens? Begin by eenvoudige dinge. Deel wat vir jou mooi is en luister na wat vir ander pragtig is. Dit kan ‘n kleur, ‘n blom, musiek of ‘n dankie wees.
Waag om ‘n bietjie meer liefde en vriendskap in jou lewe toe te laat en onthou 1 Johannes 4:18-19. “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het”.
As die uitdaging te moeilik is of die vrees het in jou hart vasgegroei kan ek help. Ek is ‘n oproep ver. Jy kan self ‘n afspraak bespreek sonder enige derde party wat baie vrae vra deur na my webwerf te gaan vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.
Ek sien uit daarna om van jou te hoor.
Groete tot volgende keer.
Dr Barbara
- Details
Hallo Nadia
Elkeen het nodig om ‘n bietjie ligter te raak aan die einde van die jaar. In die jaar het ieder en elk swaar laste opgetel en hartseer, saam met teleurstelling, in die oë moes kyk. Die gebeure, drama en krisisse rondom COVID-19 was egter net ‘n seisoen in ons lewens. ‘n Lang seisoen waarvan die einde nog nie in sig is nie.
Ek het baie hoop vir die komende jaar. Dalk gaan dinge nog moeilik wees op die ekonomiese front, maar ons is waarlik geseën en uitgespaar. God is waarlik goed vir ons in hierdie seisoen waarin ons leef.
- Details
Hallo Nadia
Ons leef in ‘n vreemde tyd waar almal stoei met ekonimiese en gesondheidsvraagstukke. Een van die maniere wat mense gebruik om hul leefwêreld “normaal” en voorspelbaar te maak is om ‘n etiket om al wat leef en beef te hang. Dit is ‘n kortpad manier van dink wat gebruik word om mense se lewens en belewenisse te probeer orden. Alles van voorkeur klere en persoonlikhede tot kommunikasiestyle te klassifiseer en in “boksies” geforseer.
Ai, as ons tog net na mekaar wil luister en die stemme van mekaar se harte wil hoor. Hartsboodskappe het ook geen prysetiket nie,
Subcategories
Blog Archive Article Count: 1
Archive for Hallo Nadia