Hello Nadia Webjoernaal

- Details

Nie in ‘n blik gedruk nie
Dit is so maklik om daardie in-‘n-blik-gedruk-gevoel vrye teuels in jou lewe te gee. Hierdie gevoel het meestal te make met ander mense se verwagting van wat jy veronderstel is om te doen. Hul opinies van wat jy veronderstel is om te wees is nog erger.
Die blik-ding laat my dink aan Dawid se dilemma Psalm 73 met die verklaring dat die Here goed is vir Israel. In vers 2 erken hy dat ten spyte van God se goedheid gaan dit nie so goed met hom nie. “Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly.” Ek het al ‘n paar keer in my lewe gevoel dat ek uitgly en gaan verdrink. Dalk is versuip ‘n beter beskrywing, want dit was net wonderwerk op wonderwerk wat my uitgelig het.
Die blik van siekwees werk beslis nie vir my solank ek asem, God se Woord en liefde in my lewe het nie. Dit beteken dat wanneer die dag breek is dit tyd om op te staan. Op staan, bed op maak en dag-klere aantrek was by tye die grootste prestasie van my dag. Met die genade van die Here het my doenlysie elke dag langer en langer geword. Elke dag is die verwesenliking van God se beloftes want dit is gevul met antwoorde van vorige gebede.
Ek moet inniglik belei dat ek in geen blik pas nie. Ek is nie ‘n tradisionele berader of predikant nie. Ek is nie ‘n tradisionele huisvrou of kunstenaar nie. Die ‘survivor’-etiket werk dus glad nie vir my nie, want die hobbels en struikelblokke van die lewe gaan my lewensreis met God nie ontspoor nie. Dit beteken dat ek ook saam met Dawid luidkeels verklaar ek vrees niks nie - “Hy vrees nie vir slegte tyding nie …Sy hart is GERUS” (Psalm 112 : 7).
Vir die res van my lewe sal ek met die loflied in my hart laggend en dansend in my Vader se voetstappe volg. Wanneer die oud-wees-jare my bekruip sal daar meer as genoeg hoopdraers wees om daardie loflied verder te dra.
“Waarlik, daar is 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie” Spreuke 23:18.
Ek kan jou help om uit die blik waarin jy geforseer is uit te klim en al die seerky vir eens en altyd agter te laat. Maak vandag 'n aanlyn- of in persoon afspraak as die webjoernaal tot jou hart spreek.
- Details

Hallo Nadia
Wanneer ek aan jou dink onthou ek altyd dat jou naam hoop beteken. Daar was ‘n tyd wat ek langs jou gesit het en jou trane afgevee het en jy het opgestaan en weer begin lewe. Hoop, genade en geloof het my die afgelope jaar deurgedra.
Die jaar was so ‘n mengelmoes van verdwaasdheid, oorbluftheid en siek wees, gemeng met liefde en nogmaals genade. Dit is soos die plaat heuningblommetjies (“Sweet Alyssum flowers”) voor my venster. Ek het hulle gesaai omdat ek nie die krag gehad het om enigiets ander te daar te plant nie. Kort voor lank het die pragtigste klein plantjies met piepklein blommetjies verskyn. Hulle het droogte, stormweer, die onhandige tuinier en ons groot troeteldiere oorleef. Hulle wil floreer en hulle deel hulle delikate geur ten spyte van elke aanslag. Hulle wil leef.
Ek wil leef. Waarlik leef. Weet jy, die heuningblommetjies het nie net vanself gegroei nie. Hulle floreer as gevolg van my man se liefdevolle sorg en water gee. Die genade wat ek beleef het, het my herinner dat daar ook vir my iemand sal wees om my trane af te vee en vir my sal bid wanneer my woorde op raak. Wanneer ek die harde lewe in die gesig moes staar was dit die genade in die sagte woorde, en nog sagter oë, van my gesin wat my vasgehou.
Net soos die heuningblommetjies floreer ons op liefde. Ek weet dat ek floreer op God se liefde en dat my gesin se liefde my ‘n spesiale rede gee om elke oggend op te staan.
Die genade van God het my geleer dat Hy in beheer is van my lewe. Hy is net so teenwoordig in die dal van doodskaduwee as in die vreugde van ons huweliksdag. Die genade van die Here het mense in my lewe geplaas om die boodskap wat Hy in ons harte geplaas het verder te dra wanneer my stem moeg raak. Die genade van die Here het mense in ons lewens geplaas om ons in gebed te dra. Ons sal nooit in berou terugkyk na wat verby is nie, want ons sal die lieflike geur van die kennis van God deel. Vir ons is dit “'n reuk van die lewe tot die lewe” (2 Kor.2:14-16). Ek lewe!
Nadia, as jy voel die lewe raak te veel ten spyte van die vordering wat jy gemaak het, onthou daar is altyd iemand wat gewillig is om jou te help.
Dr Barbara Louw het 3 uitnemende Persoonlike Beradingsreekse beskikbaar gestel.
Die reekse van 6 sessies elk is:
Trauma Agter die Rug Persoonlike Beradingsreeks 1
Tyd om Heel te Word Persoonlike Beradingsreeks 2
Skryf jou Pad na Heelwording Persoonlike Beradingsreeks 3

- Details

Hallo Nadia
Vandag wil ek ‘n diep gesprek uit my hart met jou deel. Die naam Nadia beteken hoop en ek wil vandag met jou die oorsprong van hoop deel. Die oorsprong van hoop is geloof.
Dit het my opgeval dat wanneer ek praat oor geloof word elke gesprek geswaai na die positiwiteit. Positiwiteit is nogal ‘n gonswoord (“buzz word”) van die tyd, want mense praat van positiewe sielkunde en positiewe versterking in opvoedkunde. Die positiwiteitsbeweging gaan oor die ingesteldheid om optimisties te wees en nie negatief na die lewe te kyk nie. Dit is dus ‘n gebruik of lewensuitkyk waar jy doelbewus na die positiewe in elke situasie kyk. Dis ‘n pragtige idee, maar dit is nie geloof nie.
Wanneer ek van geloof praat is dit vir my daardie diep innerlike wete wat groter is as my twyfel, pyn of enige deurmekaar gedagtes. Dit is ‘n gevestigde geestelike wete wat groter is as my lewenshouding of menslike redenasies. In Hebreërs 11:1 lees ek: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”. Jesus het vir Thomas gesê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo”.
Ek glo God is my Vader en my Saligmaker. Jesus het ook gesê: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word”. Dit soveel meer as positiwiteit, want dit is vir my ‘n geloofsaak. ‘n Saak tussen my en God wat deur niks verander kan word nie.
Nadia, ek glo dat die Bybel God se Woord is. Ek lees in 1 Korintiërs 12 van die genadegawes van God wat geloof, genesing en wonders insluit (Lees asseblief die hele hoofstuk). Vandag kan ek sonder ‘n sweempie van twyfel vir jou vertel dat ek glo dat God wonderwerke doen en drome waar maak. Ek glo dat ek omvou is met God se genade. Geen diagnose van beroerte, kanker of enige ongesteldheid sal my laat twyfel in God se genesende krag nie, want ek glo Hy is my Geneesheer.
Geloof is dus ‘n baie persoonlike saak wat elkeen van ons met ons Skepper moet uit maak, voordat die lewe ons klap, in die middel van elke lewenstorm en wanneer ons wonder wat het ons getref. Die feit dat slegte dinge in die lewe gebeur is werklik en ‘n positiewe lewensuitkyk help ons om vinniger op te staan.
Ek sal elke dag waag om vaste vertroue in God se genade te hê, wat my in staat stel om in genade besluite te neem en liefde te leef. My geloof sê dat ek weet God is in staat om ver meer te doen as wat ek ooit kon dink.
Nadia, hou vas aan jou geloof!
As jy vuisvoos voel en uitgeput raak is jy welkom om ‘n afspraak te maak sodat ek jou kan help om jou kop weer op te tel. Ek is ‘n oproep ver. Jy kan self ‘n afspraak bespreek sonder enige derde party wat baie vrae vra deur na my webwerf te gaan vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.
My kantoor sal oop wees gedurende die feestyd vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.
Groete tot volgende keer.
Dr Barbara

- Details

Sê nou net...
Hallo Nadia Webjoernaal
As jy een oggend wakker word en alles waaroor jy gister gekla het is weg. Daarmee saam het jy net oor waarvoor jy gister dankie gesê het. Hoe sal jou lewe lyk?
Sommige menses al so stoksielalleen wees omdat hulle gesindheid hulle beroof het van alles wat die lewe die moeite werd maak.
Aan die ander kant maak dankbare harte die deure oop vir wonderwerke. Was dit Einstein wat gesê het dat jy kan leef asof alles of niks ‘n wonderwerk is? Vir my is elke dagbreek en elke sonsondergang ‘n wonderwerk. My ryke lewenspad saam met my eggenoot is vol wonderwerke en getuienisse van God se goedheid. Die liefde en lag wat my kinders in my lewe bring is ‘n groot bron tot dankbaarheid. Ek is dankbaar vir elke kliënt wat my met hul lewensverhaal vertrou. Vandag is ek besonder dankbaar vir mense wat onthou dat ek iemand lank gelede gehelp het. Nou bring hulle geliefdes tot op my drumpel om ook hoop te kry.
Ek weet dankbaarheid en genade gaan hand-aan-hand. As ek en jy op die tuinbankie sit sal ek beslis twee keer dankie sê dat jy in my lewe is.
As dit moeilik is om dankie te sê omdat jou seer te groot is ek ek jou help om weer lig te siem Maak gerus 'n persoonlike afspraak met my.
Groete Dr Barbara
Subcategories
Blog Archive Article Count: 1
Archive for Hallo Nadia