Hello Nadia Webjoernaal

- Details

Een van my kliënte het nou die dag vir my beskryf van watter soort berading sy hou. Sy het gesê sy hou van ‘n op-die-man-af-benadering waar sy vinnige resultate kan kry sonder lysies.
Die lysie-ding het my laat kopkrap, maar haar verduideliking was dat sy oral op die internet advieslysies van 5-punte hier en 10-punte daar gevind het wat jy moet doen om lewensprobleme op te los. Dit was nie vir haar ‘n geval dat daar fout is met die idees nie, maar dit werk nie vir haar nie. Sy het reeds lysies wat gereed van die skool af kom wat haar vrywillig verplig om ouerlike pligte na te kom. Sy het drie kinders en dit is drie verskillende lysies. Dan is daar ook nog die ewig groeiende inkopielys waarvan sy nooit alles op een plek kan kry nie.
Nee, sy begeer berading wat haar help om vinnig tot by die kern van haar probleme te kom, ongeag hoe lank die probleme bestaan. Daarna wil sy daardie kern so vinnig moontlik met wortel-en-tak uitroei. As iets nie lewenslange resultate oplewer nie, was sy nie van plan om vir ewig berading nodig te hê nie.
Ek het saam met haar gelag, want haar pleidooi het vir my op ‘n spesiale manier sin gemaak. In die sake wêreld is verantwoordbaarheid en toerekeningsvatbaarheid gonswoorde wat die meeste mense oorweldig. Om doelwitte na te jaag is net een manier om te groei. In berading raak mense maklik verstrengel in diagnoses met lyste simptome.
Daar is egter ‘n groot behoefte om eenvoudiger te leef. Wanneer ons eenvoudig empatie en geduld met ons self het kan ons begin asemhaal. Wanneer jy kan asemhaal kan jy begin gesond word van jou gekneusde selfbeeld en seerkry. Dit lei tot spontane identifisering van jou unieke behoeftes na aanvaarding, om gehoor en gesien te word. Dan kan jy jou diepe doel vir jou lewe ontdek en jou kreatiwiteit vrye teuels gee.
My beradingsdienste is vir mense wat die trauma agter hulle wil sit en heel wil word. Ek bied 'n veilige ruimte om jou te help om jou potensiaal te ontsluit, om gehoor, gesien en geken te word. Ek help jou om jou Goddelike doel en waardevolle verhoudings te ontdek. Ek wys jou hoe om 'n verskil in die wêreld te maak met jou gawes en talente.
Ek bied persoonlike- en aanlynkonsultasies aan. My metodes is bewys en lei tot buitengewone resultate in 'n kort tyd met onomkeerbare groei na welstand.
Eersdaags vertel ek jou meer van my nuwe beradingsreekse wat werk op ‘n 6-persoonlike-beradingsessies-in-6-weke.
- Details

Alles vir almal.
Ek is ‘n toegewyde ma, jarelange student, aktiewe gemeenskapslid en so meer. Ek het vir baie lank probeer om by meer dinge uit te kom as wat ek op twee hande kan opnoem. Dan was daar ook die ekstras. Krisisberading en trauma ontlonting wat eenvoudig moes gebeur anders word die bediening afgeskeep.
Sommige aande het ek teruggedink oor my dag en gewonder waar is die dag heen. Dit het gevoel asof die idee om alles vir almal te probeer wees dieselfde is as niks vir enige iemand. Ek weet nie of die stelling waar is nie, maar my energie was so uitgeput dat my sin van betekenisvolle werk en liefdevolle verhouding verdof het.
- Details

Hallo Nadia
Die weer in Pretoria is koel en ideaal vir ‘n heerlike beker koffie op die bankie in die tuin. Dit is ‘n rustige oomblik om dankbaar te wees vir al die genade wat in my lewe seëvier.
Een van die grootste stukke genade in my lewe is die vermoë om te kan lees. Lees het nie vanselfsprekend ontwikkel in my groot-word-jare nie en skool toe gaan was nie my gunsteling tydverdryf nie. Ek moes ‘n bietjie harder werk as ander om te leer lees. Gelukkig het ek van kleins af ‘n honger om te weet wat in boeke staan.
Die ander dag het ek weer gehoor hoe iemand vertel hoe niks wat hulle op skool geleer het vandag iets beteken nie. Hulle borduur toe voort oor hoe boekkennis pure verniet is en studeer is tyd mors. Op my bankie in die tuin dink ek: “Sjoe, wat ‘n mondvol?”
Alhoewel skoolgaan ‘n uitdaging was en niemand ‘n handboek tot die letter toepas nie, het ek so baie geleer. Ek is dankbaar vir wat ek by onderwysers en maats geleer het, want dit is deel van die fondasie waarmee ek vandag kan werk, geskep en woeker. Later het dosente en mentors my gehelp om ‘n stuk verder op daardie fondasie te bou.
Uiter aard is ‘n fondasie nie iets wat oop en bloot lê, tensy daar fout met ‘n gebou is nie. My fondasie is onder die oppervlak. Dit is ‘n sterk basis, want van kleins af het ek die voorreg gehad om uit die Woord van God te leer. Ek het van jongs af geleer om ekstra werk te doen om te bereik wat nodig was.
Vandag is ek dankbaar vir die geleenthede wat ek ontvang het en mee kon werk. Wat ek geleer het was nooit verniet nie. Dit was nie verniet in die sin van waardeloos nie. Dit was ook nie verniet in die sin van gratis nie, want iemand het betaal vir my voorreg om te kon leer.
Nadia, ek kan jou help as jy vandag voel dat alles is sommer nutteloos en jy het nodig om hoop vir jou toekoms te kry. Ander mense se ongegronde opinies kan dinge soms skeef trek en baie seer veroorsaak. Maak gerus ‘n afspraak.

- Details

Hallo Nadia
Terwyl ek vanoggend geskryf het aan die daaglikse brief van bemoediging het ek gedink aan die ou uitdrukking wat sê: “Aan die hand wat blomme gee, kleef ’n bietjie geur”.
Dit is so waar! Daar is ‘n paar hartstake wat elke dag eerste op my beplanningslysie verskyn. Die eerste drie prioriteite gaan oor die bemoediging en aanmoediging van ons vriende en kollegas. Of die sonskyn of dit reën, dit is ‘n hartsbesluit wat uitgevoer word.
Terwyl ek vanoggend skryf dat God ‘n mens nooit wees laat nie en dat Hy ‘n weg oopmaak waar daar gee pad is nie, het iemand vir my ‘n “deur” opgemaak. ‘n Kollega, wie ek nog nooit eers ontmoet het nie, het soveel moeite gedoen om ons opleidingsinstansie laat evalueer en by ‘n internasionale instansies aanbeveel. Dit is ‘n uitsonderlike gebaar van welwillendheid in ‘n kompeterende wêreld. In Psalm 23 sê Dawid dat net goedheid en guns sal my volg.
Ek weet dat ek kan nooit meer gee as wat ek ontvang het nie. Op die slegste tye in my lewe het ons getrou gewerk om mense te bemoedig en aan te moedig. Daar was tye wat ek gedink het ons het alles gegee en dat ek nie ‘n druppeltjie energie oor het nie, maar as die telefoon lui of iemand vir raad vra het die Here die wysheid en energie gegee.
Die rowwe deel van die blomme-idee is wanneer mense vir hulp vra en nie die hulp waardeer nie. Dit is asof jou beste gawe, die lewensblomme, vertrap word. Geen goeie daad wat jy vir iemand anders doen gaan ongesiens verby nie. Ons Hemelse Vader weet wat jy doen en wat jou hartsgesindheid is waarmee jy ander help.
Dit beteken as jy jou siek geliefde versorg of ‘n goedhartige daad vir iemand ander doen is dit soos om blomme te gee. Die geur bly op jou hande ongeag of jy ‘n dankie kry en of dit waardeer word. Doen wat jy doen met jou hele hart en die wonderlik geur van God se guns sal met jou wees.
As die dankies vir wat jy doen min en ver uitmekaar is, sê ek vandag dankie dat jy gehoorsaam en getrou is. Dankie dat jy geleenthede aangryp om menslikheid en die goedertierenheid van God te deel in ‘n gebroke wêreld. Moenie moeg word om goed te doen nie. Mag jy bewus word van die wonderlike geur van genade wat aan jou hand kleef wanneer jy blomme deel.
As jy vuisvoos voel en uitgeput raak is jy welkom om ‘n afspraak te maak sodat ek jou kan help om jou kop weer op te te. Ek is ‘n oproep ver. Jy kan self ‘n afspraak bespreek sonder enige derde party wat baie vrae vra deur na my webwerf te gaan vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.
Groete tot volgende keer.
Dr Barbara
Subcategories
Blog Archive Article Count: 1
Archive for Hallo Nadia