Sien jy maklik scenario’s in die ergste graad en gevaar ooral? Sulke regte “worst-case scenarios”. Die goeie nuus is dat jou brein so saamgestel is om jou te beskerm teen gevaar en vir oorlewing.
Angs maak dat ‘n mens jou omgewing en interaksies met mense soos ‘n wafferse speurder die hele tyd bespied.
Is daar dalk verdagte mense, gevaarlike situasies of duistere dinge? Dit kan meer gereeld gebeur as jy in die verlede seergekry het of in die steek gelaat was. Kort voor lank is jou gedagtes net besig met “wat as ...” en alles lyk erger.
Wanneer jy die moed bymekaarskraap om die angstige gedagtes uit te spreek is die meeste omstanders se reaksies is iets in die rigting van: “Hou op bekommer” of “Ontspan net” of “Wat moet gebeur-sal gebeur”. Dit klink amper soos Doris Day se liedjie Que Será, Será en ek het gevind dat dit nie so maklik is om af te skakel nie. Teen die tyd dat die woorde van besorgdheid by my mond uitspring het my gedagtes in so veel rigtings geloop dat my hele liggaam gespanne voel.
Ek moes leer hoe om my bekommernis en geloof bymekaar te bring. Die eerste waarheid wat ek geleer het is dat besorgdheid nie ongegrond is nie, maar dat ek nie alles in die lewe kan beheer nie. Op die punt is my hartsversugting en gebed eenvoudig: “Here, U is almagtig en alwetend. Ek rol die probleem oor na U toe. Laat asseblief die hele waarheid aan die lig kom en gee my die wysheid om die situasie the hanteer. Amen.”
Jakobus 1:5 sê: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt”.
Na die gebed haal ek doelbewus diep asem en gaan voort met die taak op hande. Ek moet byvoeg dat daar wel tye van groot druk ontstaan en dan is dit kosbaar om raad te kan soek. Iemand wat opreg saam met my kan bid, sonder oordeel of slimmigheid, maak die pad makliker.
Jy is kosbaar! Jy het reeds soveel oorwin. Hou vas aan jou Godgegewe geloof en hoop.
Ek is beskikbaar vir aanlyn- en in-persoon-afsprake. Jy gaan eenvoudig aanlyn en die hele proses is eenvoudig en vertroulik. Geen derde persoon wat moeilike vrae vra nie.
Groete tot volgende keer.
Dr Barbara