‘n Ruk gelede het ek ‘n boek gekoop met ‘n aaklige prysplakker op die voorkant. Dit was ‘n gespook om die helder oranje ding te verwyder, sonder om die boek te beskadig. Daar is min dinge wat kan klou soos ‘n etiket.
Dit het my herinner aan ‘n dogter wat saam met my in die laerskool was. As gevolg van ‘n velaandoening het sy ’n knop op haar voorkop gehad. ‘n Onaansienlike gedoente, wat so groot soos ‘n halwe eier was. Natuurlik was sy genadeloos geterg en gespot. Jonk en oud het na haar verwys as “die kind met die knop”.
Gedurende een lang wintervakansie was daar ‘n mediese intervensie en die knop was verwyder. Die knop was weg, maar die etiket het vasgeklou. Nou het die kinders na haar verwys as “ die kind sonder die knop”.
Ironies genoeg, gebeur dieselfde ding wanneer ‘n mens jou eie lewensknoppe van foute, mislukking en dwaasheid uitsorteer. Daar is altyd iemand wat na die lelike lewensetiket herroep. Nou is jy die mens sonder die lewensknop.
Vir my is die goeie nuus dat God geen waarde heg aan lewensknoppe en etikette nie. In Johannes 8:36 kry ons die versekering dat as die Seun ons vrygemaak het sal ons waarlik vry wees.
Mag jy waarlik vry wees van klewerige goed soos foute, mislukkings en dwaashede, omdat jy jou Vryheid in Christus soek.
Bespreek aanlyn or in-persoon vandag