Hallo Nadia
Ek verstaan dat jou lewe vol persoonlike uitdagings is. Verhoudingsprobleme is nie eenvoudige sake met kitsoplossings nie.
Persoonlike probleme is baie meer kompleks as wat mense wil erken, omdat daar soveel op die spel is. Niemand kan net oppak en uit enige situasie loop nie, want daar is altyd groot emosies en finansiële implikasies.
Jy kan op ‘n klein bondeltjie sit en vir jouself jammer voel, terwyl jy wens dat jou lewe vanself sal verander.
Jy kan ook by almal kla en aan ‘n “wensbeentjie” vasklou, maar daar is ander opsies. Jy kan opkyk en opstaan.
Vandag wil ek jou egter komplimenteer vir elke treetjie wat jy neem in die proses om beter na jouself om te sien en om nader aan God te beweeg. Dit verg ‘n mens met ‘n spreekwoordelik ruggraat om op te staan en te sê: “Genoeg is genoeg! Ek wil verander en heel word”.
Ons lees dat God aan Josua gesê het: “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” Josua 1:9 AFR83.
As jy aan die wensbeentjie vasklou kan jy redelik seker wees dat jou omstandighede dieselfde gaan bly of agteruit sal gaan. As jy kies om jou ruggraat reguit te maak en die uitdagings een vir een aan te pak, is daar hoop in jou toekoms.
In my boek ‘Trauma agter die rug’ spandeer ek ‘n hoofstuk aan ‘hoop’ en het ek geskryf dat hoop opstaan wanneer die oomblikke van vrees, hopeloosheid en hulpeloosheid oorweldigend raak.
Mag die hoop van Christus vir jou nuwe betekenis kry.
Jy is welkom om jou gebedsversoek vir my te stuur.
My kantoor is oop vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.
Groete tot volgende week.
Dr Barbara