Hallo Nadia
Vandag wil ek jou herinner dat jy geseënd is. Soms is die lewe vol ontstuimigheid en verwoestende storms. Omstandighede kan so oorweldigend wees dat ‘n mens bang raak as jy aan die toekoms dink.
Ek en jy het geleer om aan geloof en hoop vas te hou, want dit maak nie saak die toekoms inhou nie, God is reeds daar. Ja, God is in die toekoms en Hy verander nooit. Hebreërs 13:8 sê dat Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
Soms verloor ons die geloofsanker omdat ander mense se klatergoud en grootpratery ons verblind. Iewers het ek die waarskuwing gehoor dat ‘n mens nie jou roomys moet laat smelt omdat jy ander se sprinkels tel nie.
Kyk vandag na al die wyses waarop jy geseënd is en die lys van dinge waarvoor jy dankbaar kan wees sal groei en groei. Wanneer jy jou seëninge getel het kan jy diep asemhaal en daardie seëning geniet. Moenie dat die seëninge wegsmelt omdat jy wegkyk en iemand anders se lewe of sprinkels begeer nie.
Jy is welkom om jou gebedsversoek vir my te stuur.
My kantoor is oop vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.
Groete tot volgende keer.
Dr Barbara