Hallo Nadia

Wat sal die mense sê? Dit is een van die mees beperkende vrae waarmee ek grootgeword het.

Ondervinding het my geleer dat mense ‘n baie kort geheue het as dit kom by skinderstories. Een opspraakwekkende storie word in minder as ‘n oogwink deur die volgende opinie vervang. Aan die ander kant is mense min gepla met wat gewone mense, soos ek en jy, aanvang want hulle is besig met hul eie lewensdramas.

Van die kosbaarste herinneringe in my lewe is geskep in oomblikke waar ander mense se mening nie saak gemaak het nie. Ek onthou byvoorbeeld die smaaklike worsbroodjies wat ons as gesin op die randsteen gesit en eet het by die boeremark. Ewe gesellig was die eet van vars gebakde snoek op die hawemuur terwyl my man my vertel het van sy kinderdae.

Dit was ‘n tyd van spontane lag en gesels sonder drama. Dit was ook ‘n ligjaar verwyder van my opvoeding. Ek was geleer dat ‘n mens altyd by ‘n tafel sit en eet met met ‘n mes en vurk, want wat sal die mense sê as ...

Nadia, kyk verder as ander mense se opinies. Jou lewe sal verander as jy in jouself begin glo op ‘n nuwe manier. Die beste manier om in jouself te begin glo deur na jou te kyk soos jou Skepper en Saligmaker na jou kyk. In God se oë is jy kosbaar en Hy kan en wil jou vriend wees (Jakobus 4:4-7 en Job 22:21-22).

Suksesvolle volwassenheid is om van jouself te hou, om te hou van wat jy doen en om te hou van die wyse waarop jy dinge doen. Neem verantwoordelikheid vir jou handel en wandel, want niemand gaan dit namens jou doen nie.

Jy is kosbaar! Jy het waarde gehad voordat ander mense opinies gehad het. Hou vas aan jou Godgegewe waarde en hoop.

My kantoor is oop vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.

Groete tot volgende keer.

Dr Barbara

 

 

Our Cookie Notification
Our Cookie Notification

We use cookies on our website. Some are essential for the site's operation, while others help us improve the site and the user experience (tracking cookies). You can decide for yourself whether to allow cookies or not. Please note that if you reject them, you may not be able to use all the site's functionalities.