Keuses, keuses…
Hallo Nadia
Hier in Pretoria het ons weer van winter na somer gespring. Dit lyk of lente oorgeslaan is.
Is daar dae wat dit vir jou voel asof dit moeite is om keuses te maak? Om aan te pas tussen die reëls rondom die verskillende vlakke van die COVID-19-inperkinge en om ‘n vlak van voorspelbaarheid in die lewe te ontdek moes ‘n mens vreeslik baie keuses maak.
Tussen die oorvloed van keuse deur kan dit lyk of mense se vermoë om goeie besluite te maak afneem. Dit is asof hulle probeer om die normale spanning wat gepaard gaan met besluitneming probeer vermy. Hul besluitnemingsvermoë is so uitgeput soos ‘n pap battery. Dit is nie net moeilik om groot besluit te maak nie, maar enige besluit is ‘n straf. Soos: Wat wil jy eet? Tee of koffie?
Nadia, as ‘n mens so uitgeput is, neem elke besluit meer energie en jou vermoë om wyse besluite te maak neem af. Jy voel nie net afgemat nie, maar jou brein is sommer mistig. Soos tyd verloop, kan die gevoelens meer word, ten spyte van iets soos ‘n impulsiewe inkopingtog.
Jy kan beter besluite maak deur die belangrikste keuses vroeg in die dag aan te pak. Takel daardie moeilik telefoonoproepe of projekte voordat dit warm word en jy flou voel. Sosiale media is een van die grootste energie-diewe as dit by besluitnemingsuitputting kom. Dit lei jou aandag af en hou jou besig. Jy is dan so besig sonder om iets konstruktief te bereik.
Beter beplanning rondom daaglikse verpligtinge help om te voorkom dat ‘n eenvoudige besluit in ‘n krisis ontaard. Dit sluit klere, etes en familiesake in.
Wanneer jy, as my kliënt, so keuse-voos is, is my eerste paar vrae:
- Wanneer laas het jy iets gedoen wat jy werklik geniet?
- Wanneer laas het jy heerlik gelag?
- Hoe lyk jou slaappatroon?
- Het jy vrede en hoop in jou hart?
In my boek ‘Trauma agter die rug’ spandeer ek ‘n hoofstuk aan ‘hoop’ en het ek geskryf dat hoop opstaan wanneer die oomblikke van vrees, hopeloosheid en hulpeloosheid oorweldigend raak.
As jy sukkel om keuses te maak in jou leefwêreld, kan ek jou help. Ek is beskikbaar vir aanlyn- of in-persoon-afsprake. Jy gaan eenvoudig aanlyn en die hele proses is ongekompliseerd en vertroulik. Geen derde persoon wat moeilike vrae vra nie.
Groete tot volgende keer.
Dr Barbara