Hallo Nadia
In die vorige webjoernaal het ek vir jou geskryf dat daar tussen die beurtkragsessies soms ‘n kansie vir ‘n koppie koffie is saam met my dogter. Nou met ek egter erken dat dinge sedertdien erg ontwrig geraak het.
Die beurtkrag het omgesit in lang periodes sonder enige elektrisiteit. Ek praat van sessies van meer as 26 ure se geskarrel en gesukkel as gevolg van politiekery en industriële aksie. Dit was ‘n gestoei om afsprake te skuif, vergaderings te laat gebeur en ‘n huishouding te laat werk.
Net toe ek dink die verskoning dat ons baie gereeld sonder krag moet klaar kom klink holrug gery, kom ons agter dat verskeie van ons rekenaars skade opgedoen het. Dit was die laaste ding wat gemaak het dat ek voel asof my wa se wiele almal het afgekom. Wat nou?
Ek het op die trappie by die agterdeur gaan sit in en besef dat ek nie eers ‘n wa het nie. Stadig maar seker het ek gedink wat ek het: ‘n liefdevolle hond wat saam op die trap sit; ‘n gesin wat gesonder is as verlede jaar hierdie tyd; ‘n dak oor my kop en baie, baie meer.
In my gemoed weet ek dat ongekende tye bring ongewone geleenthede. As dit rof gaan help dit nie om net harder en harder te werk nie. Dit het my goed gedoen om letterlik op die trappie te sit en my seëninge te tel. My slotsom was dat ek waarlik geseënd is en ek weet die son sal môre weer skyn.
Aan die begin van Vriende van Inter Trauma Nexus, die daaglikse elektroniese nuusbrief, is die skrifgedeelte (Miga 6:8) oor wat God van ons verwag. Dit sê: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God”. Dit is so ‘n ongekompliseerde voorskrif om na te volg.
As jou lewe so vol uitdagings is en jy raak moedeloos, sal die son weer môre skyn en God is getrou aan Sy Woord. Mag die vrede van God in jou lewe wees en as jy vir ‘n oomblik of twee sukkel om daardie vrede te ervaar help dit gewoonlik om diep asem te haal en weer te probeer.
As jy werklik vir ‘n lang tyd sukkel om vrede in jou hart te ervaar kan ek jou help. Ek is beskikbaar vir aanlyn- en in-persoon-afsprake. Jy gaan aanlyn en die hele proses is eenvoudig en vertroulik. Geen derde persoon wat moeilike vrae vra nie.
Groete tot volgende keer.
Dr Barbara