‘n Bietjie liefde vir die kruidjie-roer-my-nie
In ons hedendaagse samelewing is baie mense so bevrees vir hul toekoms dat hul lewenslus en hoop al kleiner raak. In die werkplek en by die huis kan niemand dink dat hulle nie in totale beheer van alles kan wees nie.
Dit is presies die teenoorgestelde én dieselfde as om in ‘n oorlewingswaan te wees. Almal word op ‘n afstand gehou met ‘n beleefde, neutrale: “Dit gaan goed, dankie”. Indien iemand hulp aanbied of meer geneentheid van jou verwag klap jy toe soos die kruidjie-roer-my-nie.
'n Kruidjie-roer-my-nie is 'n plant wat by aanraking sy blare vinnig kan toevou. Die Kaapse-kruidjie-roer-my-nie (Melianthus Comosus) is inheems aan Suid-Afrika. Dit is 'n struik wat vinnig groei en wat aromatiese blare het. Die klokvormige blomme is helderrooi met swart kolle aan die hals. Die pragtige plante trek voëls soos suikerbekkies aan. Gewoonlik is die blare snags opgevou en oordag uitgesprei, maar by aanraking kan die plant skielik sy blare toevou.
Nadia, my uitdaging vir jou in 2022 is om dit te waag om ‘n bietjie meer liefde, ondersteuning en vriendskap in jou lewe toe te laat. Laat toe dat die mense om jou kan sien watter pragtige mens jy is. Jy is lief vir ons Hemelse Vader, maar daar is ‘n groot vrees wat veroorsaak dat jy soos ‘n kruidjie-roer-my nie toeslaan as iemand naby jou kom.
Ja, mense kan seer maak en jou teleur stel, maar God se genade is elke oggend nuut, die son sal wel weer skyn en daar is liefdevolle, omgee-mense om jou. Die meeste mense ken nie die wonderlike mense in hul eie lewens nie, want hulle is te besig. Besig om ander vanselfsprekend te aanvaar en ons harte is toegepanser.
As die seer van trauma die lens geword het waardeur jy na die wêreld kyk is dit tyd om die lense skoon te maak of ‘n ander bril te kry. Jy is baie sterker as wat jy vandag voel. Jou gewilligheid om te probeer om mense toe te laat om jou te leer ken en lief te hê sal maak dat jy verander. Jy sal elke keer ‘n bietjie dapperder en wyser wees.
Waar begin ‘n mens? Begin by eenvoudige dinge. Deel wat vir jou mooi is en luister na wat vir ander pragtig is. Dit kan ‘n kleur, ‘n blom, musiek of ‘n dankie wees.
Waag om ‘n bietjie meer liefde en vriendskap in jou lewe toe te laat en onthou 1 Johannes 4:18-19. “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het”.
As die uitdaging te moeilik is of die vrees het in jou hart vasgegroei kan ek help. Ek is ‘n oproep ver. Jy kan self ‘n afspraak bespreek sonder enige derde party wat baie vrae vra deur na my webwerf te gaan vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.
Ek sien uit daarna om van jou te hoor.
Groete tot volgende keer.
Dr Barbara