Hallo Nadia

Baie dele van ons land het die afgelope tyd reën gekry en dit is asof hele gemeenskappe nuwe hoop gekry het. In sommige dele was daar skade maar die meeste mense is dankbaar vir die reën ten spyte van die verspoeling en oorstroming wat plek-plek gebeur het.

Soms spoel trauma en drama ook so deur ‘n mens se lewe en daarom het ek die webjoernaal na jou vernoem Nadia. Jou naam beteken mos hoop. Saam kan ons hoop in elke situasie innooi.

As ‘n berader het my lewenspad met die van ‘n mense in nood of traumatiese pyn gekruis. Die kontak was soms net ‘n paar uur of selfs vir ‘n paar minute. Vandag kan net ek baie dankie sê vir daardie oomblikke.

As helper hoop en bid jy dat jy ‘n verskil maak aan ander se pyn en lyding. Die werklikheid het my geleer dat elke mens met wie ek in kontak kom aan my hart raak.

Toe ons Inter Trauma Nexus in 1998 geregistreer het, het iemand gevra of ek ‘n boek gaan skryf oor al die stories van die gevalle met wie ons werk. Natuurlik is daar kleurryke, grusame en wonderbaarlike stories van wat met mense gebeur het en in my hart is ‘n skrywer.

Gaan ek ‘n boek skryf oor my kliënte se stories? Nee. Definitief nie, want mense het my vertrou met stukkies stories oor oomblikke in hul lewens. Baie van die oomblikke was so pynlik dat woorde dit nie kon beskryf nie, maar dit was net oomblikke.

Ons word nie gedefinieer deur die oomblikke van wat in ons lewens gebeur nie. Die oomblikke is soos foto’s op ‘n koerant se voorblad – wit en swart met ‘n verlangse berig. Die ware storie en emosies is nêrens in sig nie. Daar is niks was die rou emosies, van die val en opstaan of van die oorwinning en genesing.

Vandag sê ek dankie vir die oomblikke wat ons as mense kon deel. Daardie oomblikke het boublokke geword waarmee jy uit die dieptes van jou trauma geklim het. Jy het die harde werk gedoen.

Dankie vir die kiekie-kyk wat jy vir my in jou lewe gegee het.

Dankie vir die geleentheid om saam met jou te bid  en saam met jou te groei.

Soms het helpers ook hulp nodig. Wanneer ons verstaan dat ons almal mense is en dat die lewe kosbaar en broos is kan ons mekaar help. Mag die enigste oomblik wat jy afkyk na iemand die oomblik wees wat jy af buk om hom op te help. Geen vals fronte van “wat sal die mense sê” nie. Kom ons gee genoeg om vir mekaar om dankie te sê vir die oomblikke wat ons deel.

Ek is dankbaar vir elke kosbare oomblik saam met jou en die string oomblikke saam met my gesin en vriende. Dit is kosbare oomblikke soos stringe pêrels.

Nadia, jy is kosbaar! Jy is kosbaar in God se oë en in Sy raadsplan. Kom ek herinner jou aan die prys wat Hy vir elkeen van ons betaal het. “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16).

Hou vas aan jou Godgegewe waarde en hoop.

Ek is ‘n oproep ver. Jy kan self ‘n afspraak bespreek sonder enige derde party wat baie vrae vra deur na my webwerf te gaan vir aanlyn- en in-persoon-afsprake.

Potgooi van die boodskap - Die boodskap was op 5 Februarie 2022 uitgesaai op Jacques H Botes se program op PretoriaFM.

Groete tot volgende keer.

Dr Barbara

 

 

Our Cookie Notification
Our Cookie Notification

We use cookies on our website. Some are essential for the site's operation, while others help us improve the site and the user experience (tracking cookies). You can decide for yourself whether to allow cookies or not. Please note that if you reject them, you may not be able to use all the site's functionalities.