Hallo Nadia
Mense sê wonderlike goed oor die begin van ʼn dag, soos dat die môrestond goud in die mond het. Natuurlik is dit voordelig om vroeg op te staan, veral wanneer jy ʼn goeie na se rus agter die rug het.
My sirkadiese ritme is egter van so ’n aard dat ek nie ’n oggendmens is nie.
As gevolg van baie aande se werk of studie, terwyl my kinders geslaap het, is oggende ’n stemmige affêre in ons huishouding. Dit vat ʼn hele rukkie vandat ek opgestaan het, todat ek wakker is.
Met die jare saam het ek geleer dat die manier wat ek die dag begin, die res van die dag se stemming intens beïnvloed. Die wyse waarop ons, as huisgenote of gesinslede, byvoorbeeld mekaar groet is ’n weerspieëling van ons verhoudinge.
Net soos vir Dawid, is dit vir my belangrik om vroeg in die dag met God te gesels. “U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag” (Ps. 5:4). Hierdie oggendgesprekke met God plaas al die potensiële probleme, bekommernisse en konflikte in ʼn nuwe lig.
Sommige mense redeneer dat hulle te besig is om stil te raak aan die begin van ʼn dag, maar ek het geleer dat ek nie kan bekostig om dit nie te doen nie. Die manier waarop ons ʼn dag begin is die eerste tree op die dag se reis na genesing en heelheid.
Aan die begin van elke dag bid ek vir God se wysheid en al weet ek nie wat die dag ook al inhou nie, weet ek dat God en ek reisgenote is.
Nadia, mag elke dag op ʼn rustiger noot begin, sodat jy die goddelike wysheid wat in jou is kan ontdek.
(Sien ook Jakobus 1:5)
Groete
Dr. Barbara